Breyten Breytenbach ~ Die Koei In Die Bos
Opgedra aan Jan Rabie, Neville Alexander, Ingrid Jonker, Sheila Cussons en Piet Philander, om uiteenlopende redes, maar met ewe veel erkentlikheid
Dames en here (en ek weet nie eintlik wie om uit te sonder of spesiaal toe te spreek nie – is ons is dan nie almal gelyk hier nie?
’n Tydjie gelede skryf ’n goeie vriendin vir my, toe sy verneem dat ek hierdie ding moet doen vanaand: “Die mismoedigheid wat oor mens toesak oor die taalstorie by US (en die ander kampusse). Dit voel vir my of jy nou weer die lyk van Afrikaans gaan afdra van die berg (soos met die vertelling waarmee jy destyds jou toespraak by die Sestiger-somerskool begin het), maar hierdie keer sonder hoop op nuwe lewe. Hoe om so ’n toespraak te konstrueer moet ’n groot uitdaging wees. Skuldbelydenis? Teikenskiet? Met ’n haelgeweer lostrek? De donder in wees? Skel? Pleit? Weer die argumente vir moedertaalonderrig op die tafel sit? Met ’n nuwe perspektief kom? Is laasgenoemde enigsins moontlik? Ai, ek dink aan jou. En daar gaan baie ore wees wat na jou luister …”
Ek wil vir die liewe vriendin sê dit gaan ’n bietjie van alles moet wees, dat die bobbejaan weer die berg gaan probeer klim, dat baie ore moedswillig verkeerd hoor, ook alreeds omdat my gedagtes krom getrek het met die jare. (Ek voel sommer klaar jammer vir myself oor die onbegonne taak, maar gaan so wragtag nie huil en kla net om die Stellenbosse boys te vermaak nie!)
Daarby het ek ’n skimmelappeltjie te skil met Stellenbosch-universiteit as versinnebeelding van parogiale Afrikaanse eienskappe – hardvogtigheid en skynheiligheid. Dat dit, in my boek, by uitstek nog altyd die teelaarde was vir allerlei gewasse van gedienstigheid teenoor die heersers van die oomblik. En dan nogal dikwels, uit hoofde van ’n selfbelangrike geleerdheid waar daar in feite net omgesien word na eie aansien en status, arrogant ook met ’n moralistiese opgeblasendheid. So asof politieke korrektheid hier as wiel ontwerp is …
Lees verder: http://www.litnet.co.za/die-koei-in-die-bos/